Die strukturalisme is 'n teoretiese benadering en intellektuele beweging binne die sosiale wetenskappe en kontemporêre filosofie wat in die sestiger- en sewentigerjare van die twintigste eeu sy hoogtepunt gehad het. Dit behoort egter nie as 'n eenvormige beweging gesien te word nie, maar as 'n groep filosowe en sosioloë wat 'n gemeenskaplike beginpunt het naamlik; daar is direk waarneembare of onbewuste strukture wat onderliggend is aan alle sosiale verskynsels. Hierdie strukture is versamelings van die verhoudings tussen die elemente wat die sosiale realiteit uitmaak. Dit is dus 'n versamelnaam vir 'n aantal interdissiplinêre metodes en navorsingsprogramme wat verklaar dat daar groot onbewustelik funksionele kulturele simboolstelsels bestaan wat die alledaagse tot 'n groot mate bepaal en wat hulle ook dus wil ondersoek.[1][2]